Joost van der Westhuizen kon nie daarin slaag om die publikasie van ’n nuwe boek oor sy lewe te keer nie.

Regter Eberhard Bertelsmann van die hooggeregshof in Pretoria het ook beslis die Springbok-legende moet Gavin Prins, die skrywer van Joost & Amor, se regskoste betaal.

Hy het gesê Joost, wat aan motorneuronsiekte ly, kon nie aan die hof bewys dat die bykomende stres wat dié boek glo sal meebring sy dood sal verhaas nie.

Die boek handel oor die laaste dekade van Joost se lewe en sy veelbesproke huwelik met die sangeres Amor Vittone.

Beeld berig nóg Joost nóg Gavin was self by die hof. Joost het wel op die beslissing gereageer in ’n SMS aan sy prokureur deur te sê: “Ons moet dit aanvaar.”

Deur Herman Scholtz