NET toe almal begin dink die huwelik tussen Amor Vittone en Joost van der Westhuizen gaan stil-stil en heel vredeliewend in die skeihof sterf, gooi iemand ’n ding in die bos. En dis nie ’n klip nie; dis sommer ’n rots.

Dit was alombekend dat die oud-Bok die een was wat die twee se glanshuwelik wou probeer red, maar dat sy sangervrou vasgeskop het. En toe, skielik uit die bloute dae gelede, dagvaar Joost vir Amor vir ’n egskeiding.

En volgens mediaberigte is dit Joost – selferkende ontroue eggenoot en hoofrolspeler in ’n seksvideo – wat dié keer vir Amor van ontrouheid beskuldig.

Terwyl hul vriende gedink het die pad na die skeihof gaan sonder drama verloop, lyk dit nou net asof die skeigeveg van die jaar dalk dreig.

En die stormwolke bly net ál digter saampak: Intussen het iemand in ’n naamlose dreigbrief vir Amor gewaarsku as sy nie vir Joost terugvat nie, sal sy in die openbaar verneder word...

Jaloesie

DIT was asof die sanger ’n nuwe asem gekry het die dag toe sy Joost die trekpas gegee het, vertel ’n goeie vriendin. Veral ná Amor se onlangse vakansie by haar suster in Kanada het sy so gelukkig en ontspanne gelyk as wat almal haar jare laas gesien het.

Dit is dalk dié nuutgevonde geluk wat Joost laat dink dat Amor ’n skelmpie het.

Joost het toegang tot Amor se rekenaar of selfoon gekry en afgekom op korrespondensie tussen haar en ’n man wat sy onlangs tydens ’n vakansie in Kanada ontmoet het, vertel ’n vertroueling van Amor.

Maar dit wat hy daar gekry het, was doodonskuldige praatjies, hou die vriendin vol. “Nee, jy kan dit nie ’n flirtasie noem nie. Dis ook nie ’n affair nie – hy sit dan daar en sy hier. Dis ’n vriend wat haar ’n bietjie boost, dis al.

“Maar Amor en die man het nogal vermoed dat Joost haar gaan dophou deur na haar korrespondensie te kyk, en hulle het doelbewus leidrade gelos om te sien of hulle hom kan betrap,’’ sê die vriendin.

‘‘Ek het Amor al baie sien huil. Ek het haar sien seerkry. Ook toe sy nog getroud was. Wat gebeur het, het haar laat twyfel aan haarself.

"Sy het geen selfbeeld oorgehad nie. Sy het gedink sy is nie mooi nie. En toe sy terugkom van Kanada, toe blom sy weer. As dit is omdat iemand daar vir haar gesê het sy is mooi, dan gun ek dit vir haar,’’ sê die vriendin.

Maar dit lyk asof ander ook nie die sanger nie nuwe geluk toewens nie.

So drie weke gelede het ’n onbekende afleweraar in oranje klere te voet aangekom by Jacaranda 94.2 waar Amor as omroeper werk, en ’n koevert met haar naam op daar gelos.

Dit was nie toegeplak nie en ’n kollega, wat aangeneem het dis ’n briefie van ’n aanhanger, het daarna geloer.

Dit was allesbehalwe ’n vriendelike brief.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010.

Verwante artikels:

Eksklusief: Amor Praat haar hart uit

Amor vra Joost glo om te loop

Joost en Amor: So seer, maar die liefde seevier

Eksklusief: Ek was Joost se minnares

'Oop' huwelike: Kan dit werk?

Leraar: Joos, jy kan jou huwelik red

Op die internet:

http://www.amorvittone.co.za

Amor Vittone Facebook-blad

Wikipedia: Joost van der Westhuizen