Twee mense is in hegtenis geneem in verband met die dood van ’n 12-jarige seun op Coligny. Sy dood is blykbaar die rede vir gewelddadige protes in die gebied, het die premier van Noordwes vandag gesê.  

“Die gemeenskap van Coligny is sedert die moord op die kind onrustig, want hulle glo die voorval is rasgedrewe,” het premier Supra Mahumapelo in ’n verklaring gesê.

Die polisiewoordvoerder kol. Sabata Mokgwabone het aan News24 gesê die twee verdagtes van 26 en 33 jaar oud is van moord aangekla en sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Coligny verskyn. Inwoners beweer ’n boer het die seun aangerand nadat hy hom Vrydag in sy mielieland gekry het, het City Press Dinsdag berig.  

Supra het om kalmte gevra in die plaaslike Ditsobotla-munisipaliteit en inwoners verseker reg en orde sal gehandhaaf word.  

Sy verklaring is uitgereik nadat winkels geplunder en drie huise, vragmotors, ’n trekker en ’n gepantserde polisievoertuig op Coligny en Lichtenburg aan die brand gesteek is sedert die protes begin het.

Op Lichtenburg is ’n vragmotor met 38 000 hoenders op Vrydag aan die brand gesteek.

Taakspan gestig

Supra sê hy het ’n taakspan saamgestel om aandag te gee aan die situasie in die munisipaliteit. Dit word gelei deur Sello Lehari, die lid van die uitvoerende komitee vir opvoeding en leier van regeringsake in die provinsie.

Die polisie sê Coligny, Lichtenburg en Itsoseng was vanoggend redelik kalm.

“Dit is nog stil. Ons bly teenwoordig by al die geraakte plekke,” het Sabata gesê.

Mense het Dinsdag tussen 19:30 en 20:00 ingebreek by ’n gebou op Lichtenburg wat behoort aan Agrico, ’n verskaffer van besproeiingstoerusting. Hy sê hulle het vier buitebande uit die gebou geneem en dit aan die brand gesteek.

Die polisie en brandweer is ontbied. Die gebou is nie beskadig nie.

Supra het gevra betogers moet staatsamptenare die kans gee om hul griewe deeglik te ondersoek. Hy het gevra betogers moet hulle weerhou van geweld en misdaad wat “groei en ontwikkeling kan belemmer”.

Bron: News24