Die Portugese polisie, onder toesig van hul Britse eweknieë, gaan 11 mense ondervra in verband met die verdwyning van die driejarige Maddie McCann in 2007, het ’n bron na aan die ondersoek Dinsdag aan AFP gesê.

Vier vroue en sewe mans sal ondervra word oor Maddie se verdwyning; die Britse meisie het sewe jaar gelede uit ’n kamer in die oord Praia da Luz in Algarve verdwyn.

Onder dié wat ondervra word, is Robert Murat, ’n Brit in Portugal wat ondervra is toe die kleuter die eerste keer as vermis aangemeld is.

Werknemers by die vakansiekompleks waar Maddie op 3 Mei 2007 verdwyn het, sal ook ondervra word.

Inspekteurs van Scotland Yard het glo Portugal toe gereis om te skakel met Portugese speurders wat die saak hanteer.

Maddie het uit haar kamer verdwyn terwyl haar ouers by ’n nabygeleë tapas-kroeg was.

Die Portugese polisie het die saak in 2008 ná 14 maande gesluit. Haar ouers is in haar ontvoering geïmpliseer voor hulle vrygespreek is.

Nadat hulle die saak twee jaar lank bestudeer het, het Brittanje verlede Julie hul eie ondersoekende hersiening van die getuienis geopen en die Portugese owerheid het hul saak kort daarna heropen.

- Sapa