Dit is al sewe maande nadat vlug MH370 van Malaysia Airlines met 239 mense aan boord verdwyn het.

Sewe maande nadat die vliegtuig met 239 mense aan boord verdwyn het, het die Australiese veiligheidsburo vir vervoer, wat die soektog na die vliegtuig lei, gesê hulle het met voortdurende ontleding die gebied verfyn waar ’n onderwater soektog vandeesweek begin is.

“Die jongste ontledings dui aan dat die onderwater soektog verder suid binne die wye soekgebied vir die volgende fase van die soektog geprioritiseer moet word,” het hulle gesê.

Ten spyte van ’n uitgebreide soektog na die vliegtuig, wat op 8 Maart onderweg na Beijing van Kuala Lumpur geheimsinnig suidwaarts gedraai het, is daar nog tot dusvêr geen teken daarvan gevind nie.

Lugvaartkenners het nie veel inligting tot hul beskikking gehad nie, behalwe die satellietkommunikasie vanaf die vliegtuig – hulle het die inligting gebruik om ’n soekgebied in die uitgestrekte oseaan aan die kus van Wes-Australië vas te stel.

Hulle glo die beste kans om die vliegtuig te vind, is die finale satelliet-“handdruk” van die vliegtuig; hulle skat die laaste een is uitgestuur toe die vliegtuig besig was om neer te stort.

Die veiligheidsburo het Woensdag gesê nadat alle faktore in ag geneem is, was daar ’n aanduiding dat die vliegtuig “dalk relatief naby die boog is”, hoewel dit verder suidwaarts is as wat hulle aanvanklik geglo het.

In Junie het ’n verslag deur die buro aangedui die prioriteit-soekgebied was bokant ’n onderwater gebied, Broken Ridge, sowat 2 000 km wes van Perth. Maar die nuwe ontledings dui aan dit is suid van hierdie gebied, wat vroeëre aanduidings bevestig.

“Die ontleding van die satellietdata en vlugnabootsings is voortgesit en hierdie werk kan lei tot verdere veranderinge aan waar die soektog onderneem word,” het die buro bygevoeg.

“Die simulasie-aktiwiteite het brandstofuitputting in die regterenjin, gevolg deur verlies van verbranding in die linkerenjin sonder beheerkontrole behels,” het die buro in ’n aangepaste verklaring oor die vlugplan-ontleding gesê.

“Die scenario het veroorsaak dat die vliegtuig na die linkerkant oorgehel het en dat dit die water in ’n betreklike kort afstand getref het nadat die laaste enjin krag verloor het.”

Hulle het die ontleding van kommunikasie en vlugdata gebruik om vas te stel watter onderwater gebiede eerste verken moet word, en die eerste skip het vandeesweek die seedieptes begin skandeer.

Go Phoenix, wat deur Maleisië gekontrakteer is, gebruik gevorderde sonartegnologie, en kenners hoop dit sal groot wrakstukke soos ’n enjin of raamwerk opspoor. Twee skepe sal dit in die komende weke bystaan.