Familielede van passasiers wag vir nuus oor hul geliefdes.

Vlug MH370 het vroeg Saterdag oor die see tussen Maleisië en Viëtnam vermis geraak. Dit was onderweg van Kuala Lumpur na Beijing.

“Ons wag nog op uitslae. Ek verwag om vanmiddag die antwoord te hê,” het Amdan Kurish, die direkteur-generaal van die Maleisiese Maritieme Wetstoepassingsagentskap, aan AFP gesê.

Hy het gesê die oliemonsters wat ondersoek word, is versamel van ’n slik van twee kilometer lank in water sowat 185 km noord van die staat Kelantan, aan die ooskus van Maleisië.

Die slik was die grootste van verskeie in die gebied, het hy gesê. Dit was net suid van die punt waar lugverkeerbeheerders kontak met die vliegtuig verloor het.

Die Viëtnamese owerhede sê hulle stel ondersoek in nadat moontlike wrakstukke uit een van hul soekvliegtuite aan die suidwestelike punt van Viëtnam opgemerk is.

Geen bevestigde bewyse van die vliegtuig se lot is al gevind nie. Dit laat die owerhede dronkgeslaan en geskokte familielede eis antwoorde.

Vrese van ’n terreuraanval het aan die lig gekom nadat onthul is twee passassiers het met gesteelde paspoorte op die vliegtuig geklim – een van Italië en een van Oostenryk.

- Sapa