’n Seun (8) wat op die N12 in Johannesburg met ’n baksteen op sy kop getref is, gaan Woensdag (vandag) uit sy geïnduseerde koma wakkergemaak word, berig Netwerk24.

Caden Slabbert het ’n ernstige kopbesering opgedoen nadat ’n onbekende man verlede Donderdag op die N12-hoofweg naby die The Glen-winkelsentrum ’n baksteen deur die passasiersvenster van sy pa se motor gegooi het.

Vier soortgelyke voorvalle is daardie dag aangemeld. Dit is na bewering een mens wat dit op dieselfde stuk van die hoofpad gedoen het.

Marionette Schwab (42) is ’n tweede slagoffer van die reeks aanvalle. ’n Entjie verder op die hoofpad is sy ook op die kop getref. Sy is steeds in ’n geïnduseerde koma.

Gordon Cooper, Caden se stiefpa, het Dinsdag gesê sy herstel gaan nog lank duur, maar die tekens is ten minste goed.

Sy suster, Eden (11), wat saam met hulle in die voertuig was, is nie beseer nie.

Caden se biologiese pa, Justin, wat ten tyde van die voorval die motor bestuur het, het ’n klag by die polisie ingedien, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bronne: Netwerk24, News24.com