Dit was die toegewing wat kapt. Marius Joubert, ’n forensiese kenner van die polisie, onder kruisondervraging moes maak.

Hy het gister getuig die bloedspatsels is deur geweldtoediening veroorsaak. Joubert het verder gesê die 17-jarige verdagte se weergawe dat die gewere op Goeie Vrydag verlede jaar langs die pad opgetel is, is hoogs onwaarskynlik omdat daar nie stof of vuilheid op die gewere was nie.

Maar tydens kruisondervraging vandag het adv. Willem Coetzee, namens die verdediging, verskeie ander scenario’s aan hom voorgehou en Joubert moes toegee dis dalk wel moontlik, hoewel hy in party gevalle meen dis steeds onwaarskynlik.

Coetzee het uitgelig dat die seun se DNS nie op een van die vuurwapens – ’n .22-geweer en 'n .357-rewolwer – gevind is nie. Marthella Steenkamp (14) se DNS in die vorm van epiteelselle is wel op die rewolwer gevind – onder meer op die sneller.

Joubert het beklemtoon dat die selle op die vuurwapen kan kom as iemand dit afgevuur of net hanteer het.

Die 17-jarige seun, geklee in ’n chino-broek en knoophemp, het nie veel emosie gewys terwyl sy advokaat Joubert ondervra het nie. Hy word aangekla van die moorde op Marthella, Deon en Christel Steenkamp, regsverydeling en die verkragting van Marthella.

Die verhoor duur voort in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley.

 - Herman Scholtz