Die drie vermoorde Clarence-kinders van Londen wat aan spinale spieratrofie gely het, is na bewering in hul pajamas in hul slaapkamer versmoor.

Die kinders se pa, Gary, en hul oudste dogter, Taya – wat nie aan die siekte ly nie – was in Suid-Afrika om haar agste verjaarsdag te vier toe die tragedie hom afspeel. Hulle het gisteraand inderhaas saam met sy ma, Anna, en suster, Derri Phillips, na Londen gevlieg

Die polisie het die lyke van Olivia (4) en die tweeling Ben en Max (3) Dinsdagaand om halftien Londense tyd in ’n boonste slaapkamer van hul huis aangetref.

Al drie kinders het glo aan die siekte gely wat lewensbedreigend is en beweeglikheid, asemhaling en spysvertering aantas. Tania (42) is vir die beweerde moord in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding.

’n Vriendin het op die toneel gesê dat die situasie net te veel vir Tania geword het.

“Terwyl sy met die tweeling swanger was, is daar SMA (spinale spierdistrofie) by die tweede kind gediagnoseer. Die tweeling is vroeggebore en was vir ’n baie lang tyd in die hospitaal. Hulle het positief getoets vir die siekte en die ouers het toe met drie gestemde kinders huis toe gekom.”

’n Suid-Afrikaanse woordvoerder van die gesin, Lloyd Marschall, het gesê Gary is uiters geskok en sou nooit sy vrou nooit alleen gelos het as hy gedink het daar is enige probleme nie.

Die polisie is ontbied toe vriende vir 24 uur lank nie daarin kon slaag om die gesin in die hande te kry nie.

Die gesin se verhaal het by die Birchwood-hotel en OR Tambo-konferensiesentrum in Johannesburg begin. Die egpaar het glo meer as ’n dekade gelede na Engeland verhuis. Tania, ’n grafiese ontwerper, het ’n paar jaar gelede haar werk gelos om na die kinders te kyk, en Gary is volgens sy profiel op Investec die hoof van hul gesondheidsorg in Londen.

Gary en Taya het glo ten tyde van die tragedie by die familiewoning in Bela Bela in Limpopo gekuier.

Marelize Potgieter

Bronne: Dailymail.com, The Times, iol.co.za