Sers. Michael van der Watt, wie se lyk ná ’n vier dae lange soektog gevind is, het selfdood gepleeg.

So het ’n familievriend aan Huisgenoot gesê ’n dag nadat Van der Watt (34) se lyk sowat 2 km van die Van Stadensriviermond gevind is.

Hy het ’n enkele kopwond gehad, en sy dienspistool is langs hom gevind.

“Ons weet nog nie waarom hy dit gedoen het nie; hy het geen nota aan ons gelos nie,” het die vriend emosioneel oor die foon gesê.

“Hoewel hy nooit oor sy werk gepraat het nie, glo ek nie dit het iets daarmee te doen nie, anders sou hy iets gesê het.”

Van der Watt was sedert Sondag vermis.

Hy was ’n lid van die Motherwell-polisiëringsgebied se taktiesereaksiespan in Port Elizabeth.

Sy fiets is Woensdagmiddag tussen bosse in die kloof van die Van Standensrivier opgespoor.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie se taktiesereaksiespan het Van der Watt se liggaam omstreeks 14:00 met ’n skietwond aan die regterkant van sy kop gevind.

Sy dienspistool het langs hom gelê.

Geen misdaad word vermoed nie, het Naidu gesê.

Volgens haar moes ’n helikopter gebruik word om die liggaam uit die kloof te verwyder.

Huisgenoot het berig ’n kollega het Van der Watt laas gesien toe hy hom Sondagoggend ná ’n nagskof by sy huis afgelaai het. Bure het vertel hy het die huis Maandagoggend in fietsrydrag verlaat.

Polisie-eenhede het op fietsroetes na Van der Watt begin soek.

Naidu sê sy fiets is gekry in ’n beboste gebied wat nie vir fietsry geskik is nie.

Dit is gevind deur ’n groep wat te voet langs die Van Stadenspas gesoek het.

Volgens Naidu was die fiets in digte bosse, wat aandui dis daar geplaas.

Van der Watt word oorleef deur sy vrou, Unity, en hul 18 maande oue seun, Juan-Michael.