’n Gesin van Polokwane in Limpopo is gebroke nadat hulle hul blonde dogtertjie aan die dood moes afstaan.

Volgens die gemeenskapskoerant Polokwane Observer het die Scheepers-gesin verlede Saterdag op ’n familievriend se plaas gekuier toe die ongeluk gebeur.

Zonika was saam met haar ouer broer, Petrus Scheepers (16), en haar neef, Francois Muller (23), in die veld toe ’n skoot van die windbuks glo per ongeluk afgaan.

Na wat berig word, het die koeël haar op ’n kort afstand in die gesig getref. Niemand is seker hoe dit gebeur het nie, maar haar broer en Francois is glo erg getraumatiseer ná die voorval.

Sy het glo direk nadat die skoot afgegaan het haar bewussyn verloor. Haar ouers, Bert en Cindy, het haar na die Mediclinic Limpopo gehaas, waar sy ’n breinskandering ondergaan het.

“Die dokter het vir ons gesê daar is massiewe bloeding op haar brein en dat sy onverwyld na Netcare Unitas-hospitaal in Pretoria oorgeplaas moet word,” het haar ouers aan die gemeenskapskoerant gesê.

Bert was nog te getraumatiseerd om kommentaar te lewer toe Huisgenoot hom kontak.

Die dokters by Unitas-hospitaal het luidens die berig kort ná haar aankoms Zonika breindood verklaar. Haar ouers moes die groot en hartseer besluit neem om die masjiene af te skakel.

“Ons is stukkend en het nie antwoorde nie, maar het besluit om as mate van troos haar organe te skenk om vir ander hoop en lewe te gee. So sal sy in ander kan voortleef,” het hulle aan die Observer gesê.

Op Cindy se Facebook-blad het boodskappe van medelye ingestroom op foto’s van Cindy en Zonika.

“Ek het nie woorde nie, Cindy. Al wat ek kan sê, is baie sterkte en mag ons Hemelse Vader julle troos in hierdie tyd van verlies. Geen ouer verdien om ’n kind te verloor nie. Dink aan jou,” het een van haar vriendinne geskryf.

Zonika word Maandag om 11:00 by die Lofdal Volle Evangelie Kerk in Pretoria-Noord begrawe.

Veiligheidsmaatreëls: Jou kind en ’n windbuks

Windbukse is deesdae nie meer ’n goedkoop speelding om kinders mee te vermaak nie, meen die wapenkenner John Welch van die Suid-Afrikaanse Geweervereniging.

“Windbukse is deesdae gesofistikeerd en kos tot R30 000,” sê hy.

Hy meen kinders moenie toegelaat word om met windbukse te skiet tensy hulle ’n goeie sin vir verantwoordelikheid het en die veiligheid van vuurwapens ken nie.

“Kinderbeskermingswetgewing bepaal dat jy niks moet doen wat kinders in gevaar stel nie, en dat dit ’n groot verantwoordelikheid is om na hulle om te sien. Windbukse is nie speelgoed nie.”

Maar windbukse is maklik te koop by buitelugwinkels en vlooimarkte en die koeëls word nie as ammunisie geklassifiseer nie.

John verduidelik windbuksammunisie word van sagte lood vervaardig en word plat as dit harde teikens tref, maar dit kan deur sagte teikens dring.

“Hoewel daar nie wette oor kinders en windbukse is nie, geld die beginsels oor die besit en hantering van enige moontlike gevaarlike wapen hier.”