Soos baie tieners het Ellie Jones se tande skeef gegroei. Op die ouderdom van 14 jaar het sy draadjies gekry.

Maar ongelukkig vir dié jong vrou van Rhyl in Wallis was dit nie so eenvoudig om die probleem reg te stel nie. Joy Hickman, ’n konsultant-ortodontis, het aan Ellie en haar ouers, Simon en Natalie, onthul die meisie het ’n seldsame aangebore afwyking wat maak dat haar kakebene nie behoorlik groei nie. Gevolglik was die tiener se kaak so klein soos dié van ’n agtjarige. Gelukkig het die kaakchirurg Emma Woolley by die Glan Clwyd-hospitaal geweet hoe om dit reg te stel, maar gewaarsku dit sou seer wees. Ses lang jaar en twee baie pynlike operasies het gevolg, maar Ellie sê dit was die beste ding wat sy kon gedoen het. Ellie (nou 20) het aan The Daily Post gesê: “Dit was baie seer, maar dit moes gedoen word om die probleem reg te stel.” Ná haar eerste operasie op 16 jaar kon Ellie ’n maand lank geen vaste kos eet nie en glad nie praat nie. Sy het met ’n notaboek gekommunikeer. “Ná ’n ruk kon ek ’n paar woorde mompel. Ek het ook ’n ruk lank sleeptong gepraat omdat my mond so geswel was.” Die winkelassistent se kake moes horisontaal en vertikaal gesny word, maar dit was nog nie die einde nie. Toe dit voldoende genees het, is Ellie se misvormde ken chirurgies reggestel. “Ek het meestal net verlig gevoel. Ek het eindelik gevoel ek kan myself wees,” vertel die mooi brunet, wie se dramatiese gedaantewisseling wêreldwyd die nuus gehaal het. “Nou voel ek net normaal.”

Volgens Emma het baie mense geen idee hulle ly aan ’n soortgelyke toestand nie. “Hulle aanvaar net hulle sukkel om te byt,” sê sy. “As dit nie vroeg behandel word nie, kan dit later probleme veroorsaak. “Ek is baie bly die behandeling het ’n verskil gemaak en Ellie haar selfvertroue teruggegee.”

Ellie sê ten spyte van al die pyn, was haar beproewing absoluut die moeite werd. “Dit was die jaar van pyn werd. Soos my ma sê: Wat is ’n jaar vergeleke met die res van jou lewe? Ek het altyd gedans, maar was bang om na die voorkant te kom. Nadat ek die operasies laat doen het, het my dansonderwyser gesê sy kon sien ek het meer selfvertroue. Ek was skaam, maar nou voel ek baie selfversekerd. Dit het my hele lewe verander.”

Bronne: Daily Post, The Mirror, Metro