Gangeshananda Teethapadam (54) het na bewering Vrydag ’n 23-jarige regstudent probeer verkrag by haar woning in die suidelike staat Kerala in Indië, en sy het toe “’n mes ter verdediging gebruik en sy penis afgesny,” het Sparjan Kumar, die distrikspolisiehoof, gesê.

Die man het hom glo as ’n godsdienstige leier, oftewel swami, voorgedoen en die jong vrou se ouers het hom gerespekteer en vertrou.

“Die vrou het vir ons gesê haar ouers het blindelings hierdie swami vertrou, en dat hy gereeld genooi is om by spesiale geleenthede op te tree, en ook om by hul huis oor te slaap, waar hy haar aangerand het,” sê Kumar. Die man het haar na bewering verskeie jare lank mishandel.  

En in ’n skokkende kinkel gaan die vrou se ma dalk nou in hegtenis geneem word omdat sy stilgebly het oor die beweerde mishandeling.

Volgens die student het sy haar ma van die seksuele aanranding vertel en het dié niks daaromtrent gedoen nie.

Daar is ná die aanval met die sogenaamde swami na ’n nabygeleë hospitaal gejaag. Hy het ’n noodoperasie ondergaan en die plaaslike media het berig dat hy in ’n stabiele toestand is.

Read more: Indian court grants raped girl (10) permission to have an abortion

“Dit was moeilik om steke te werk aan die afgesnyde deel. Die operasie is gedoen om bloeding te stop en die urinekanaal te herstel,” het ’n verklaring van die hospitaal gelui. Die vrou is nou onder polisiebeskerming en ontvang traumaberading. Die polisie sê dis hulle verantwoordelikheid om haar “morele ondersteuning” te bied en het haar nie van ’n misdaad aangekla nie.

Bronne: telegraph.co.uk, timesofindia.indiatimes.com