.

Volgens Netwerk24 is Jannes Scheepers (23), 'n jong vlieënier wat Vrydag vermis geraak het, se lyk Sondag laatmiddag in ’n onherbergsame gebied opgespoor.

Hy wou vermoedelik oor die Marieps­kop naby die Blyderivier-canyon vlieg, maar digte mis het waarskynlik sy sig belemmer en hy het in die berg vasgevlieg sowat 60?km noordwes van Graskop, berig Erika Gibson.

Die gebied waar die wrak is, is so onherbergsaam dat ’n reddingspan eers met ’n helikopter die toneel sal moet bekyk.

“Indien nodig, sal ons met toue in die kloof moet afgaan om die lyk te gaan uithaal,” sê sers. Leon Harrington van die Mpumalanga-polisie se K9-reddingspan.

Jannes se ouers het Sondagmiddag steeds op ’n wonderwerk gehoop.

So ’n rukkie voor 17:00 het ’n soekvliegtuig ’n wrak gewaar.

Die 23-jarige handelsvlieënier van Johannesburg het Vrydagoggend net voor 06:00 van die Wonderboom-lughawe in Pretoria opgestyg vir ’n pretrit voordat hy moes gaan werk.

Hy het by ’n lugvaartmaatskappy in Johannesburg gewerk en word as ’n ervare vlieënier bestempel.

Daar is vroeër berig Scheepers het nie ’n vlugplan ingedien nie – wat nie ongewoon is vir ’n vliegrit soos wat hy onderneem het nie.

Volgens sy stiefma, Rina Scheepers het hulle wel Sondag ’n vlugplan op sy skootrekenaar, wat tuis was, gevind.

Foto: Facebook

BRON: Netwerk24

LEES OOK OP NETWERK24