Moenie met Charlize van Zyl sukkel wanneer daar ’n skaakbord tussen julle staan nie! Op 13 is sy die jongste Suid-Afrikaanse speler wat die status van internasionale skaakmeester kon verwerf.

Dit het sy reggekry ná haar oorwinning verlede week in die Afrika-Sone 4.3-skaakkampioenskapstoernooi in Botswana. Charlize het teen spelers van ander Afrika-lande (en van alle ouderdomme) meegeding en die vroueafdeling gewen.

’n Mens kry punte op die wêreldranglys as jy wedstryde wen en Charlize het ná die oorwinning genoeg punte vir die internasionale meester-titel. Naas grootmeester is dit die hoogste titel wat ’n mens in skaak kan kry. “Ek is baie bly oor die nuwe titel. Maar my doelwit is om eendag ’n vroue-grootmeester te wees.”

Wat is haar geheim? “Ek bly kalm tydens ’n wedstryd. Almal wat na jou wedstryd kyk, het ’n sekere idee van wat hulle dink jou volgende skuif behoort te wees en dit sit nogal druk op jou.” Maar ’n mens leer dit ignoreer, sê Charlize. “Hoe meer ervaring jy het, hoe minder pla daardie druk jou.”

Dit help verder dat sy ’n baie kalm persoonlikheid het. “Dit help my lang tye konsentreer. Ek is glad nie hiperaktief nie. En omdat ek met skaak grootgeword het, is ek gewoond aan lang wedstryde.” Maar sy is steeds moeg ná ’n lang wedstryd soos dié een in Botswana wat langer as vyf uur geduur het.

Sy glo sy het die talent geërf by haar pa, Marius. Hy is die bestuurder van die Suid-Afrikaanse skaakspan en het haar leer speel. En tog glo sy dat talent nie genoeg is nie. “’n Mens het passie nodig. Jy moet lief wees daarvoor, anders is daar geen punt daarin om skaak te speel nie.”

Sy oefen gewoonlik drie dae per week ná haar ander skoolverpligtinge skaak en speel die meeste naweke in toernooie. Sy het ’n afrigter, die Argentynse grootmeester, Pablo Lafuente. Hy bly tans in Suid-Afrika en rig haar twee keer per week af en woon ook die  meeste van haar toernooie verby.

Skaak is nie al waarmee dié gr. 8-leerling van die Hoër Meisieskool Collegiate in Port Elizabeth haar besig hou nie. Sy speel ook hokkie, neem deel aan swem en bespeel die fluit. Wanneer sy nie besig is met een van haar vele aktiwiteite nie, doen sy “normale tiener-goed” soos TV-kyk en tyd saam met haar vriende deurbring. Charlize lees ook graag en haar gunstelingboek is The Hunger Games.

Dit is vir haar lekker om iemand uit te oorlê op die skaakbord. “Mense onderskat my dikwels, seker as gevolg van my ouderdom. Maar dis die lekkerte van skaak: Moet my nie onderskat nie, want daar’s ’n goeie kans dat ek jou dalk kan wen.”

-   Suzaan Hauman