Slegs vyf minute nadat Rita Ora daar verby is, is daar skote in ’n straat in die woongebied gehoor. Polisiebeamptes het omstreeks 14:00 na die toneel gehaas.

Volgens die koerant The Sun het ’n gewapende bende losgebrand in Colville Square, maar ander berig weer dit was een skieter wat ’n vuurwapen vanuit ’n motor afgevuur en deur ’n venster op die eerste verdieping van ’n huis in die gebied geskiet het.

“Die polisie het op Woensdag 15 Maart kort ná 14:00 reageer op ’n berig dat daar skote in Colville Gardens afgevuur is,” het ’n polisiewoordvoerder in ’n verklaring gesê. “Plaaslike beamptes was op die toneel en het geen beseerdes gevind nie. Daar was bewyse dat ’n vuurwapen afgevuur is. Dit word tans as ’n misdaadtoneel beskou. Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.” Die koerant Evening Standard het berig Rita het by haar pel, die model Alice Dellal, gekuier wat in die gebied woon, en het ook geoefen by die Bodyism-gim om die draai waar die skietery plaasgevind het. Al het sy die skietery net-net gemis, het Rita nie te getraumatiseerd gelyk toe sy Woensdagaand in die stad gewaar is nie. Die sangeres het wel ’n bekommerde gesigsuitdrukking gehad toe sy ’n opname-ateljee ná ’n laataandsessie, geklee in ’n rooi baadjie, swart spanborek en wit Yeezy Boost-tekkies, verlaat het.

Sy het ook nie in die sosiale media oor haar noue ontkoming gepraat nie en het Dinsdag laas iets gedeel toe sy vir aanhangers gesê het sy hoop hulle het ’n “lekker dag”.

© Cover Media