Thando Hlatshwayo (20), Suid-Afrika se voormalige wêreld nr. 2 junior rolstoeltenniskampioen, het Dinsdagoggend vroeg haar stryd teen breinvliesontsteking verloor.

Haar familie het bevestig Thando, van Pietersburg in KwaZulu-Natal, is ná ’n kort siekte oorlede.

Haar familie het bevestig Thando, van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal, is ná ’n kort siekte oorlede.

Sy het in 2009 rolstoeltennis begin speel. In April 2010 het sy aan haar eerste toernooi in Oos-Londen deelgeneem. wee jaar later het sy Suid-Afrika by die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se junior kampioenskap in België verteenwoordig. Daarna het toernooie in Rusland, Brittanje, Sri-Lanka en Mauritius in haar Suid-Afrikaanse kleure gevolg. Thando het op 3 September haar 20ste verjaardag gevier.

Sy was 49ste op die wêreldranglys in die vroue-afdeling en haar beste enkelsposisie op die rangleer was 36ste. In Desember verlede jaar het sy die finale ronde bereik tydens die ACSA Johannesburg Ope-toernooi. Thando het haar raket in Oktober vanjaar vir die laaste keer in ’n toernooi in Bloemfontein geswaai.

Sy het die dubbelstitel verower en as naaswenner teen Mariska Venter in die enkelspel geëindig.

Karen Losch van Rolstoeltennis Suid-Afrika het gesê: “Vandag het ons ’n skitterende lig in die hart van Suid-Afrikaanse rolstoeltennis verloor – ’n ware rolmodel, ’n waardige teenstander en ’n wonderlike vriendin.

“Ons het soveel wonderlike herinnerings om te koester, maar hierdie laat ’n groot leemte vir almal. Woorde kan nie sê hoe hartseer die nuus vir ons is nie.”

Thando sal onthou word as die vrou wat altyd geglimlag het.