Was jy al met ’n vriend of familielid vasgesit oor watter rugbyspelers nou eintlik in die Springbokspan hoort? So ’n argument was Rouxvé Meyer (14) van Somerset-Wes se inspirasie om haar eie rugby-webtuiste te begin. Dié tuiste, SA-Select, gee aan rugbyondersteuners dwarsdeur die land die geleentheid om ’n Springbokkeurder te speel.

“Ek het bewyse gesoek waarmee ek vir my pa kon wys daar is baie ondersteuners wat soos ek voel oor die spesifieke speler,” vertel Rouxvé, ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Parel Vallei op Somerset-Wes. Dit was in Oktober verlede jaar. Sy het haar ouer broer Francois (18) en sy IT-kennis ingespan om te help met die ontwerp en programmering van die webtuiste.

Dit is ’n eenvoudige konsep. “Ondersteuners kan registreer en dan stem vir hul gunstelingspeler per posisie. Die webtuiste gee dan die 15 spelers met die meeste stemme.” Verder moet “keurders” ook sê watter Suid-Afrikaanse span hulle ondersteun. “’n Mens kan dan byvoorbeeld sien hoe vergelyk die Stormers-ondersteuners se span met dié van die Bulls-ondersteuners.”

Dit is nie altyd maklik om ’n passievolle rugby-ondersteuner én ’n meisie te wees nie, sê Rouxlé. Maar dat sy haar storie ken, is duidelik.

As Stormers-ondersteuner stel sy die volgende regrukplan vir dié sukkelende span voor: “Die agterlyn-afrigter Robbie Fleck behoort dadelik afgedank te word. En die span se ingesteldheid moet verander. Ons kan nie dieselfde styl as die Bulls speel nie, want ons het nie sulke goeie skoppers nie. Ons het ’n baie goeie agterlyn, maar die spelstyl pas nie by die spelers nie.”

Aangesien die Stormers se kans om die Superrugby-kroon te dra, maar gering lyk, hoop sy die Cheetahs kan dit dalk regkry. “Ek hou van hoe hulle speel. Dit is ’n opwindende styl en dit is lekker om te sien dat dit eindelik vir hulle werk.”

In hierdie stadium is SA Select nog te klein om geld daaruit te maak met advertensies. Dit is ook nie Rouxvé se onmiddellike doelwit nie. “Ons het al heelwat voorstelle gekry vir moontlike verbeteringe of nog goed wat ons kan byvoeg. Wanneer Francois terug is van Amerika waar hy op die oomblik sy gap­-jaar deurbring, gaan hy my help met die implementering daarvan.”

Sy sal dalk self na skool in ’n IT- of sakerigting studeer. “Eintlik weet ek nog glad nie. Wie weet? Dalk word ek nog die bestuurder van ’n rugbyspan; dit sal vir my lekker wees!”

Wie is die gewildste speler volgens die SA Select-keurders? Die slot Eben Etzebeth troon bo die ander spelers in die vyftiental uit: 954 uit die 1 358 geregistreerde keurders sou hom op slot kies.

Stem jy saam? Gaan registreer by www.sa-select.co.za om ook jou stem te laat tel.

[caption id="attachment_36846" align="aligncenter" width="322"]Rouxvé saam met John Smit Rouxvé saam met John Smit[/caption]

[caption id="attachment_36845" align="aligncenter" width="323"]Rouxvé Meyer Rouxvé Meyer[/caption]