Pelser het reeds aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie, maar intussen het sy vrou, Bianca, se prokureur gister egskeidingsdokumente op hom beteken, wat hy in die aanhoudingselle by die hof onderteken het.

Pelser (22) is in hegtenis geneem nadat Deon op 11 Junie met brandwonde en ’n gekraakte skedel in sy wiegie gevind is. Pelser het glo met Bianca se koperkleurige Kia Picanto die pad gevat.

Lees ook: Ooggetuies beskryf hoe voortvlugtige pa vasgetrek is ná 6 maande oue baba sterf

Hy is daardie selfde dag as vermis aangemeld en ’n soektog is begin. Lt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, het mense gevra om na vore te kom sou hulle weet waar Pelser is.

Citizen het vyf dae later berig Nicoli Roscher, ’n inwoner, het die voertuig langs Christiaan de Wetweg in Roodepoort gewaar. Minute later het sy Pelser daar naby gesien en die polisie gekontak. Hy het ’n windjekker en kortbroek aangehad en was kaalvoet. Hy is kort daarna in hegtenis geneem.

’n Dag voor Deon se dood het Pelser het op Facebook ’n prent gedeel van ’n makabere figuur wat ’n skedel vashou terwyl vlamme op die agtergrond brand met die woorde “Never push a man to violence who has been waiting for an excuse to use it” daarop geskryf.

Die dekfoto op sy Facebook-blad is een van hom, Bianca en hul seun. Op sy profielfoto soen hy Deon op die wang.