’n Onderwyser van ’n spogskool in Pretoria het bedank nadat ’n voorval met ’n skoolmeisie aan die lig gekom het.

swaaiesad

Dié getroude mansonderwyser van die Hoërskool Waterkloof, in die ooste van Pretoria, het bedank nadat ’n ondersoek teen hom gedoen en hy geskors is.

Die voorval tussen die onderwyser, wat in sy 20’s is, en die skoolmeisie, wie se ouderdom nie bekend is nie, het vroeg in Februarie plaasgevind, het adv. Chris Jansen van Vuuren, voorsitter van die skool se beheerliggaam, bevestig.

Die skoolhoof, Daan Potgieter, het die saak onder Chris se aandag gebring.

“Die saak is ondersoek, die feite bepaal en die onderwyser geskors. Hy het bedank nadat hy geskors is,” sê Chris.

Volgens hom wil die skool nie die besonderhede rondom die voorval bekend maak nie omdat dit so ’n sensitiewe saak is en omdat die leerder se identiteit beskerm moet word.

Geen stappe is teen die meisie gedoen nie. “Vir ons gaan dit om die beskerming van die leerder se identiteit,” sê Chris.

“Ons glo die leerder behoort gesteun te word.”

Die skool het die saak by die polisie aangemeld ingevolge voorskrifte “omdat ons prosedures vereis dat ons sulke gevalle aanmeld”. Hulle het nie ’n klag gelê nie.

Chris is onseker of die kind se ouers ’n saak by die polisie gemaak het.