Stefan de Villiers (27), ’n onderwyser aan die Laerskool Hendrik Louw in die Strand, het in Desember in die see geswem toe hy op iets trap. Dit het gou duidelik geword die piepklein snywond aan sy voet is geen gewone seerplekkie nie, want Stefan se voet het geweldig begin pyn, het Netwerk24 berig.

[caption id="attachment_161303" align="alignnone" width="600"]Dit het gou duidelik geword die piepklein snywond aan sy voet is geen gewone seerplekkie nie. Dit het gou duidelik geword die piepklein snywond aan sy voet is geen gewone seerplekkie nie.[/caption]

Nadat sy vrou, Elanie, sy voet ontsmet het, is Stefan na die Busamed Paardevlei privaat hospitaal in die Strand se noodsentrum. Die pyn het ál erger geraak.

“Hulle het my voet in kookwater gedruk en my morfien gegee sodat die gif, wat uit baie proteïene bestaan, soos ’n eier kon stol,” vertel Stefan.

“Dit was die ergste pyn wat ek al ooit ervaar het.”

Stefan vermoed hy het op ’n baie giftige steenvis getrap. “Die dokters kon dit nie bevestig nie, maar al die simptome het daarop gedui.”

Stefan het ná die ongeluk drie operasies ondergaan en vel van sy bobeen is oorgeplant op sy voet. Hy kon vir ’n lang ruk nie daarop trap of selfs loop nie.

“Ek loop nou al so ’n week en ’n half weer. Maar ek kan nog nie ver ente sonder my krukke stap nie. Hopelik sal ek teen middel Maart weer normaal kan loop,” sê hy aan Huisgenoot.

Hy vertel die swelling sak darem ál vinniger en hoewel die wond heeltemal behoort te genees, sal ’n letsel agterbly.“So my droom om ’n voetmodel te word, is aan skerwe,” skerts hy.

[caption id="attachment_161304" align="alignnone" width="600"]Hoewel die wond heeltemal behoort te genees, sal ’n letsel agterbly. Hoewel die wond heeltemal behoort te genees, sal ’n letsel agterbly.[/caption]

Volgens Stefan was die afgelope twee maande allermins maklik. Dit was harde werk om positief te bly. Hy vertel hy het baie gebid en hom gereeld daaraan herinner dat sake veel slegter kon verloop het.

“Ek kon my tone of my voet verloor het,” sê Stefan en voeg by dit sou nie gehelp het om homself te bejammer nie.

Boonop sê hy is hy iemand wat graag besig bly en om so by die huis te sit, het hom later baie verveel.

“’n Mens voel pateties. My vrou moes my met alles help, maar sy is ses maande swanger en hou ook skool. So wanneer sy moeg by die huis gekom het, moes sy nog na ’n pasiënt omsien.”

[caption id="attachment_161306" align="alignnone" width="600"]Stefan se vrou moes ook later hand bysit. Stefan se vrou moes ook later hand bysit.[/caption]

Stefan, wat ook die laerskool se eerste rugbyspan én atletiek afrig, kan Woensdag weer begin werk en sê hy sien baie daarna uit om weer voor die klas te staan en wiskunde en sosiale wetenskappe aan te bied.

“Ek sal nou maar met krukke langs die veld moet staan!”