Gister is berig oor die liggaam van ’n 21-jarige man wat by die aktrise se huis in Kalifornië gevind is. Edenilson Steven Valle was een van die gaste by ’n partytjie wat Demi (52) se assistent gereël het.

“Ek verkeer in absolute skok,” het die aktrise in ’n verklaring gesê. “Ek was besig om landuit te reis om my dogters (Rumer, Tallulah en Scout) vir ’n verjaardagviering te ontmoet toe ek die verpletterende nuus ontvang.”

Edenilson is om 5:30 in die swembad agter die huis gevind. Besonderhede oor wat gebeur het, is nog nie bevestig nie, maar TMZ berig hy het in die swembad geval en kon nie swem nie.

“Om ’n kind te verloor is ’n ondenkbare tragedie en my hart gaan uit na die jong man se familie en vriende,” het Demi by monde van haar verteenwoordiger, Heidi Lopata, gesê. “Ek vra dat julle asseblief al die betrokkenes se privaatheid in hierdie sensitiewe tyd respekteer.”

Volgens TMZ sê die polisie geen misdaad word vermoed nie. Daar is beweer Demi se assistent en van haar vriende het die eiendom in ’n stadium verlaat en Edenilson met hul terugkeer dood aangetref.

Geen nader besonderhede is tans bekend nie.

© Cover Media