Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê paramedici het met hul aankoms ongeveer 03:00 Donderdagoggend die man, vermoedelik die bestuurder van die voertuig, langs die verwronge motorwrak gevind.

Hy is op die toneel dood verklaar.

Sy passasier, ’n 21-jarige meisie, is ’n entjie van die motor gevind. Sy verkeer in ’n ernstige toestand en het ook ’n ernstige beenbesering opgedoen.

Die meisie is na die Potchefstroomse MediClinic geneem vir dringende mediese aandag.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.