’n Man van Alberton het sy buurman se seun en twee vriende geskiet en gewond omdat hulle glo musiek te hard gespeel het, berig Rapport.

Die afgetrede eiendomsagent Dave Ridgeway (66) het glo weggekruip in Peter Robertson se tuin in Brackendowns.

Toe Peter (19) daar aankom, het Dave hom beveel om op die grond te lê. Dave het na bewering drie skote geskiet, waarvan een Peter in die kop getref het.

Peter se vriend Calvin Main is in die been geskiet, terwyl Jonathan de Freitas daarin geslaag het om die derde skoot te vermy.

Dave het toe probeer vlug, maar in die swembad geval. Hy het hom glo herhaaldelik in die kop probeer skiet, maar nie geslaag nie omdat die rewolwer nat was.

Peter se vriende het hom na die Union-hospitaal in Alberton gebring. Sy toestand is ernstig.

Dave is in hegtenis geneem.

In ’n ondersoek is ’n fyn uitgewerkte plan en selfdoodbrief op sy skootrekenaar gevind.

Volgens die berig het die geskeide Dave weens geldelike probleme vier maande gelede na ’n gastehuis langs die Robertsons getrek.

Hy het aanhoudend by die Robertsons gekla oor die harde musiek wat Peter in sy motor en in die huis gespeel het.

“Ek dink die lewe het te veel vir hom geraak, en hy wou sy frustrasies uithaal op my en Peter,” sê die tiener se pa.

’n Vriendin van Dave het die polisie in September ingelig hy dreig om sy lewe te neem.

Sy sê die polisie kon die tragedie verhoed het, maar het niks gedoen nie.

Die Gautengse polisiewoordvoerder kol. Noxolo Kweza het glo gesê volgens die polisie se inligting wou hy hom skiet en niemand anders beseer nie, berig die koerant.