elephant-84186_1920

Volgens die staatsbeheerde koerant Chronicle het die polisie die voorval bevestig en gesê dit het verlede Saterdag plaasgevind.

Moses Ndlovu (31) en sy vriende Methuseli Sibanda en Magezi Nyathi het glo drie olifante in ’n beboste gebied gesien en “hulle na ’n oopte probeer aanjaag sodat hulle naby hulle kon foto’s neem”.

Die olifante, twee koeie en ’n bul, het hulle bestorm en die drie mans het in verskillende rigtings gevlug. Die bul het Moses ingehaal en hom doodgetrap, terwyl sy twee vriende ongedeerd ontsnap het, word berig.

’n Verbyganger het die volgende dag op Moses se lyk afgekom en die saak by die dorp se hoof aangemeld. Moses het veelvuldige beserings oor sy hele lyf gehad.

Die voorval volg kort nadat ’n leeu by ’n wildpark in die ooste van die land ’n vrou gebyt het.

Die vrou, Ngoni Hera, het “ernstige beserings aan haar regterheup en -arm opgedoen toe ’n ingehokte wit leeu haar aanval terwyl sy teen die heining geleun het”.

Haar lewensmaat het haar glo afgeneem toe die leeu van ’n ander deel van die hok te voorskyn kom.

Bron: News24