Jessica Boynton (19) van Griffin in die Amerikaanse deelstaat Georgia was drie weke lank in ’n koma ná ’n beweerde selfdoodpoging. Nou beweer sy haar man het haar geskiet.

Haar man, Matthew Boynton (20), verbonde aan die plaaslike polisie, het op die aand van 15 April 2016 ’n noodoproep na 911 gemaak. Hy het na bewering ’n ontstellende teksboodskap van sy vrou ontvang waarin sy aangedui het sy gaan haar lewe neem.

In die teksboodskap vra sy hom glo om na Tollin en Tyler, hul twee seuntjies, om te sien. Die boodskap dui voorts ook daarop dat dit nie die eerste keer was dat selfdoodgedagtes opgeduik het nie.

Tydens die noodoproep het Matthew ook genoem dat hy ook twee skote gehoor het en dat hy op pad na sy huis is.

KLIK HIER om na sy noodoproep te luister.

Intussen het die polisie by die paartjie se huis opgedaag. Hulle het Jennifer in ’n toegesluite kas in die huis aangetref. Sy het ’n kopwond gehad. Die polisie het daarin geslaag om die half bewustelose Jessica uit die kas te tel en mediese aandag te gee.

 

Hulle het Matthew se Glock-polisiepistool onder haar liggaam gevind. Twee skote is geskiet. Maar blykbaar was geen bloedspatsels in die kas sigbaar nie – net ’n bloeddeurdrenkte  kussing waarop haar kop gelê het.

Jessica sou die volgende drie weke in ’n koma deurbring. Op 10 Mei het die deurbraak gekom: Sy kon weer praat. En wat sy te sê gehad het, was skokkend.

Sy beweer haar man het haar geskiet en dit deur haar sogenaamde selfdood probeer verbloem. Sy het ook bedenkinge oor die selfdoodteks wat aan haar man gestuur is.

“Daar’s woorde in wat ek nie sou gebruik het nie,” het sy in ’n onderhoud met 9news.com gesê. Volgens haar was daar te veel foute en ongerymdhede in die boodskap.

“Ek sou nooit vir Matthew gesê het ek is lief vir hom nie.”

Sy het aan Georgia se buro van intelligensie (GBI) vertel dat sy en Matthew die aand van die voorval ’n struweling gehad het. Dit het oor sy ontrouheid gegaan en die foto van sy minnares wat Jessica op sy selfoon gekry het.

Daar is ook op die aand van Jessica se beweerde selfdoodpoging nie minder nie as 68 teksboodskappe tussen Matthew en die vrou gestuur. Matthew sou later teenoor die GBI erken dat hy wel ’n buite-egtelike verhouding het. Daar is ook nog die kwessie van haar “egskeidingsdagboek” waarin sy aantekenings gemaak het van haar plan om van Matthew te skei. In die boek is ’n lysie van goed wat vir haar belangrik is ten opsigte van onderhoud en toesig, tye wanneer Matthew die huis verlaat het en weer teruggekeer het en hoe om bewyse van owerspel te bekom. Maar van die blaaie is uit die boek geskeur.

Jessica sê sy was vol lewenslus en sou nie selfdood oorweeg het nie. Sy sou daardie Vrydag by ’n nuwe werk begin het en het bewyse gehad dat Matthew haar verkul het. “Ek was in die wolke.”
Die GBI het egter anders oor Matthew se moontlike betrokkenheid by die skietvoorval gevoel. Hulle het Jessica se DNS aan Matthew se vuurwapen gevind en beslis dat hy nie haar beserings veroorsaak het nie.
Op 6 Junie het Matthew teruggekeer na aktiewe diens en is ’n nuwe vuurwapen aan hom uitgereik. Vier dae later het hy aansoek om toesig oor hul twee seuns gedoen omdat hy vir hul veiligheid vrees.

’n Chirurg, wat 30 jaar in trauma spesialiseer en ook hoof is van die afdeling vir trauma en kritieke sorg by die Atlanta mediese sentrum is, dr. Vernon Henderson, was glad nie oortuig daarvan dat Jessica haarself geskiet het nie.

Hy het verwys na die hoek waarteen sy geskiet is. Sou sy haarself geskiet het, sou sy die vuurwapen van bo na onder moes gerig het om haar skedel te tref. Hy noem dit “baie ongewoon” in gevalle dat mense hulself skiet.

Vernon het ook in sy verslag genoem dat Jessica se hande, veral haar regterhand as sy haarself sou geskiet het, geen van die verwagte merke of roet getoon het nie.

Boonop het hy Jessica tydens haar hersteltydperk in die hospitaal beskryf as ’n baie opgeruimde mens wat nuwe geleenthede verwelkom en met haar studie wil voortgaan.

Volgens 11Alive het Matthew nie op enige van hul oproepe reageer nie. Die GBI weier ook om die saak verder te bespreek en die direkteur van die GBI, Vernon Keenan, het die saak glo afgesluit met die finale beslissing dat Jessica haarself geskiet het.