[caption id="attachment_154920" align="aligncenter" width="600"]Candice en haar man, Lee. Foto: Verskaf Candice en haar man, Lee. Foto: Verskaf[/caption]

Candice sê pankreatitis is nie net een van die pynlikste siektes nie, dit maak dit ook onmoontlik om te eet.

Sy sal ’n operasie moet ondergaan om ’n lewensgevaarlike vorm van diabetes – Brittle-diabetes, waar selfs insulieninspuitings die diabetes moeilik onder beheer hou – voorkom. Die pankreas is verantwoordelik vir die vertering van kos en vervaardiging van insulien om suiker af te breek.

By mense wat aan diabetes ly, word insulien nie vervaardig nie.

Die ensieme wat veronderstel is om haar kos te verteer, verteer tans haar pankreas. Dit veroorsaak dat die betaselle – klein groepe selle wat insulien vervaardig en deur die pankreas versprei is – daagliks beskadig word.

Die operasie behels die verwydering van haar pankreas. Die selle uit haar pankreas sal dan direk in haar lewer ingepomp word tot wanneer sy ’n oorplanting kan kry.

[caption id="attachment_154921" align="aligncenter" width="550"]Sonder die operasie het Candice bykans geen hoop op oorlewing nie. Foto: Verskaf Sonder die operasie het Candice bykans geen hoop op oorlewing nie. Foto: Verskaf[/caption]

Sonder die operasie het Candice bykans geen hoop op oorlewing nie. “Sy is letterlik in ’n resies teen tyd,” sê Lee.

Die egpaar het ’n tweejarige seun, Nathan, wat Candice as hul “wonderwerkbaba” beskryf. Die egpaar het gesukkel om swanger te raak en het baie vrugbaarheidsbehandelings ondergaan voor Nathan gebore is.

In ’n kwotasie wat Candice van die Universiteit van Minnesota ontvang het, sal ’n pankreasoorplanting meer as $380 000 (R5,13 miljoen) beloop. Die organisasie Rare Diseases South Africa het ’n donasieblad opgestel om Candice te help met fondsinsameling.

Luidens Amerika se Nasionale Pankreasstigting is chroniese pankreatitis ’n inflammasie van die pankreas wat nie genees of verbeter nie. Dit vererger mettertyd en lei tot permanente skade. Chroniese pankreatitis belemmer die liggaam se vermoë om kos te verteer.

Skade word aangerig wanneer verteringsensieme geaktiveer word voordat hulle in die dunderm vrygestel word. Die ensieme val dan die pankreas aan.

[caption id="attachment_154922" align="aligncenter" width="550"]Die Castle-gesin is desperaat vir fondse om vir Candice se duur operasie te betaal. Foto: Verskaf Die Castle-gesin is desperaat vir fondse om vir Candice se duur operasie te betaal. Foto: Verskaf[/caption]

Nywerheidslande skat tussen vyf en 12 uit elke 100 000 mense sal chroniese pankreatitis ontwikkel. “Chroniese pankreatitis ontstaan gewoonlik in pasiënte tussen die ouderdom van 30 en 40 en kom meer algemeen in mans as vroue voor,” skryf die stigting op sy webtuiste.