Edenvale se stasiebevelvoerder, kolonel Robert Roberts, het aan Huisgenoot gesê die saak is baie sensitief en dat dit ondersoek word.

Hy wou egter nie meer inligting rondom die sensitiewe aard van die ondersoek bekend maak nie.

“’n Saak van moord is oopgemaak nadat ’n vrou in haar laat twintigs noodlottig gewond is tydens ’n skietvoorval tussen haar man (Quinton) en ’n verdagte,” het kaptein Jean Olkers bevestig.

Die voorval, vermoedelik ’n poging tot gewapende roof, het na berig word op 31 Augustus rondom 19:30 plaasgevind.

Piet Grobler, wat aandui dat hy ’n neef van Quinton is, het op searchsa.co.za gesê Vanessa, Quinton en hul twee seuns het by Vanessa se suster gekuier en was volgens hom op pad om na hul eie huis te vertrek toe vier mans die motor bestorm het.

Een van die mans het na bewering binne die motor gevuur en Vanessa is in haar hart getref. Quinton het daarin geslaag skote met sy eie vuurwapen af te vuur. Volgens Piet het dit die aanvallers op vlug laat slaan. Quinton het met Vanessa hospitaal toe gejaag, maar dit was ongelukkig te laat om haar lewe te red.

Daar is gerugte dat die verdagtes met ’n wit Mercedes Benz gery het, maar die polisie wou dit nie bevestig nie.

Inwoners word versoek om die polisie behulpsaam te wees met enige inligting wat kan help met die arrestasie van die betrokke verdagtes.

– Marizka Coetzer