Charlotte Bevan (30) is op kringtelevisiekameras opgeneem waar sy die Bristol-kraamhospitaal met haar pasgebore dogter in haar arms verlaat. Enkele dae later is albei se lyke by die voet van ’n krans 2 km van die hospitaal gevind.

Charlotte, wat vermoedelik aan ’n geestesiekte gely het, het aan Zaani Tiana die lewe geskenk en vier dae later uit die hospitaal weggeloop.

Sy het die hospitaal in hospitaalpantoffels verlaat en het nie ’n jas gehad om haar teen die koue Britse weer te beskerm nie.

Die nuwe ma se lyk is ontdek nadat iemand pantoffels en ’n babakombers Woensdag aan die voet van die kloof gesien het. Noodwerkers het die gebied deursoek en Charlotte se lyk gevind. Haar identiteit is Donderdag bevestig.

Zaani Tiana se lyk is ure later gevind.

“Dit spyt my om te sê dat die lyk van ’n babadogter ’n kort rukkie gelede op die krans naby Charlotte gevind is,” het hoofinspekteur Simon Crisp gesê nadat die baba se lyk gevind is.

“Daar is tot dusvêr nog nie ’n formele identifikasie gemaak nie, maar ons verwag dit is Charlotte se dogter.

“Ons sal namens die lykskouer ondersoek instel. Op die oomblik behandel ons nie die sterftes as verdag nie.”

Charlotte se lewensmaat, Pascal Malbrouk, het gesê sy het ná Zaani se geboorte met depressie en ’n gebrek aan slaap gesukkel.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk, news.sky.com