ludwick

’n Omgewingsvriendelike, waterlose lyfseep het gesorg die nuustydskrif Time wys ’n plaaslike jong man aan as ’n jong volwassene wat die wêreld verander.

Die 23-jarige Ludwick Marishane van Kaapstad het die invloedryke tydskrif Time se lys gehaal van die top-30 jong volwassenes onder die ouderdom van 30 wat die wêreld verander.

Marishane, oorspronklik van Mpumalanga, se produk DryBath het hom ’n plek in die wetenskapskategorie besorg. DryBath is ’n lyfseep wat sonder water gebruik word en boonop gaaf teenoor die omgewing is.

Time se paneel, wat uit verskeie redakteurs bestaan, het gesê dat die seep “’n baie groot verskil sal maak in die lewe van Suid-Afrikaners wat op die platteland woon waar dit moeilik is om skoon water in die hande te kry”.

DryBath is die wêreld se eerste kiemwerende seep wat sorg dat dit nie nodig is om onder ’n stort te spring wanneer jy dit aangewend het nie. Dit bied veral ’n oplossing vir die probleem dat 2 biljoen mense wêreldwyd  nie toegang tot water het nie.

Marishane skryf op sy Facebook-blad hy voel geëerd dat Time sy produk uitsonder.

Nog ’n jong Afrikaan wat ook die lys gehaal het, is die 26-jarige Arthur Zang van Kameroen. Hy het ’n mediese tablet ontwerp wat lewens kan red op die platteland van sy vasteland. Zang se Cardiopad laat pasiënte op afgeleë gebiede toe om hartsondersoeke te ondergaan wat dan die resultate draadloos na spesialiste stuur. Dit beteken dat pasiënte nie duur ritte na die stad toe hoef te onderneem nie.

Bron: TIME