So lui een van ’n stapel boodskappe deur jong leerders van die Laerskool Wierdapark nadat ’n studentejuffrou, Danielle van As, Dinsdag in ’n motorongeluk omgekom het.

Danielle was op pad skool toe, toe sy op die N14, net voor die Snake Valley-afrit beheer oor haar motor verloor. Sy het, luidens berigte, met haar kêrel Francois Herman op haar handvrye-telefoontoestel gesels, toe hy ’n slag hoor.

Sy was twee jaar ’n studentonderwyser by die skool.

“’n Studentejuffrou doen wat juffroue doen, terwyl hulle onderwys studeer,” sê ’n woordvoerder van die skool, wat naamloos wil bly.

Verlede jaar was Danielle by die gr. 1’s en vanjaar by die gr. 2’s.

Nog ’n briefie lui: “Juffrou Danielle, ons mis vir juffrou baie, juffrou beteken baie vir ons, juffrou se glimlag is die mooiste. Ek hou daarvan as juffrou ons help met Afrikaans en Wiskunde. Juffrou is die oulikste juffrou.”

Die woordvoerder het Danielle as ’n klein, fyn meisie beskryf, wat altyd vriendelik was.

In ’n huldeblyk aan Danielle word sy beskryf as “’n warrelwind wat in ons lewe ingewaai en in die gange van ons siel haar liefde kom saai het.

“Met jou stywe drukkies en bokkie-oë het jy Franna (haar kêrel) onomwonde in liefde laat glo! Ons google-girl, ons MasterChef, ons Hartblom-kind. Iemand so uniek soos jy sal ons nooit weer vind nie. Ons troos onsself, ons bly aan glo dat die mooiste ster jy is, wat glimlag van bo.”