“Ons is so okei soos ’n mens in hierdie omstandighede kan wees,” het Marzanne se ma, Elna, hartseer gesê.

Marzanne (29) van Witpoort in Noordwes het weens ’n kopbesering gesterf. Sy was sowat ’n week in ’n koma in die Ahmed Kathrada-hospitaal in Lenasia naby Johannesburg. Na die ongeluk is daar wyd op sosiale media gevra dat mense vir haar herstel bid. Marzanne was ’n graad 1-onderwyseres aan die Laerskool Makwassie.

Marzanne, wat Vrydag verjaar het, en haar kêrel, Jaco Pretorius (29), was op hul kleinhoewe toe hulle twee van hul perde teen donker in die pad voor hulle huis staan. Jaco het haar gevra om naby die huis se hek te gaan staan en hulle te keer. Hy het hulle gaan aankeer sodat hulle nie in die openbare pad beland nie.

Sy het hierdie pragtige foto onlangs op haar Facebook-blad gedeel.

Die perde het na Marzanne gehardloop en haar omgestamp. Sy is by ’n hospitaal in Wolmaransstad gestabiliseer voor sy na ’n kliniek in Klerksdorp geneem is en daarna na die Ahmed Kathrada-hospitaal oorgeplaas is.

Elna sê Marzanne sal Donderdag uit die Hervormde Kerk in Witpoort begrawe word, maar verdere reëlings is nog nie gefinaliseer nie.