[caption id="attachment_153791" align="alignnone" width="550"]xx Soané Pennells en haar dogter, Miané, word Vrydag saam begrawe. Foto: Verskaf[/caption]

Nog twee voertuie was by die ongeluk betrokke.

Soané Pennells, wat op 3 Desember haar 25ste verjaardag gevier het, was saam met haar dogter, Miané, in haar silwer Volkswagen Polo toe die ongeluk vroegaand plaasvind.

Miané (5) is op die toneel dood verklaar en Soané is dieselfde aand kort voor 21:00 in die Netcare Unitas-hospitaal oorlede nadat sy geopereer is.

[caption id="attachment_153793" align="alignnone" width="550"]Klein Miané is op die toneel dood verklaar. Foto: Verskaf Klein Miané is op die toneel dood verklaar. Foto: Verskaf[/caption]

Bianca Louw (26), Soané se niggie, het Dinsdag dapper aan Huisgenoot vertel Soané het baie ernstige inwendige beserings opgedoen. Haar hart het op die ongelukstoneel gaan staan en nooddienste het lewensondersteunende stappe gedoen.

Sy vertel die omstandighede om die oorsaak van die ongeluk is nog baie vaag. Die ma en dogter het na bewering trompop teen twee aankomende voertuie gebots.

Die insittendes van die ander voertuie het oorleef, maar een vrou is ook ernstig beseer.

[caption id="attachment_153797" align="alignnone" width="550"]Ma en dogter was onafskeidbaar. Foto: Verskaf Ma en dogter was onafskeidbaar. Foto: Verskaf[/caption]

Konst. Tumisang Moloto, Wierdabrug-polisiewoordvoerder, kon ook net bevestig die ongeluk word steeds ondersoek.

Volgens Bianca was Soané onderweg van haar beste vriendin se huis in Midstream na haar ouerhuis in Capitalpark toe die ongeluk gebeur. Soané, wat vir ’n telekommunikasiemaatskappy gewerk het, was nog met verlof, maar het vroeër die dag vir haar vriendin wimpers aangesit en sou later die dag by Bianca aandoen. Sy wou net eers by haar ouers ’n draai maak aangesien hulle lank weg was met vakansie.

Soané en haar dogtertjie het op hul eie in Rooihuiskraal-noord gewoon nadat sy en Miané se pa uitmekaar is. Ten tye van haar dood het Soané al ’n geruime tyd ’n nuwe vriend gehad.

[caption id="attachment_153792" align="alignnone" width="550"]Soané en haar dogtertjie het op hul eie in Rooihuiskraal-noord gewoon. Foto: Verskaf Soané en haar dogtertjie het op hul eie in Rooihuiskraal-noord gewoon. Foto: Verskaf[/caption]

Bianca sê familie en vriende vind berusting en vertroosting daarin dat ma en dogter saam oorlede is. "Sy (Soané) sou dit nie kon hanteer as haar kind moes sterf en sy oorleef het nie. ’n Kind is meer aanpasbaar om ’n ouer te verloor, maar Soané sou dit nie kon verwerk nie."

Sy vertel Miané’tjie of Lyfie, soos Soané haar dogter genoem het, en haar ma was baie geheg aan mekaar. Die tweetjies sou gereeld stemboodskappe oor WhatsApp aan vriende en familie stuur.

“Miané'tjie was haar ma se alles. Sy het vir haar kind geleef.”

[caption id="attachment_153794" align="alignnone" width="550"]Volgens haar niggie was Soané 'n baie spontane mens. Foto: Verskaf Volgens haar niggie was Soané 'n baie spontane mens. Foto: Verskaf[/caption]

Bianca beskryf haar niggie as ’n spontane mens wat baie lief was vir gesels. “Ons kon ure lank gesels. Ek mis reeds haar oproepe. Sy het diep spore in mense se lewens getrap en sou altyd daar wees vir iemand, maak nie saak wie hulle was nie.”

Sy vertel Soané was baie beroepsgedrewe en het gehoop om in die nuwe jaar nog meer standvastigheid vir haar en haar kind te skep.

Maar nou is dié droom tragies kortgeknip.