’n Chinese kleuter kan glo diere met haar hande hipnotiseer.

Han Jiaying (5) het onlangs tydens ’n TV-uitsending van ’n Chinese talentkompetisie vyf diere, insluitende ’n akkedis en ’n konyn, laat slaap deur net haar stem en hande te gebruik. Die talentkompetisie, Amazing Chinese, is soortgelyk aan SA’s Got Talent.

Tydens haar insetsel het Han eers die diere gevryf en hulle toe op hul rug neergelê. Daarna het sy hulle liggies gestreel.

Verrassend genoeg het dit gelyk of al die diere vas aan die slaap raak, en die beoordelaars en die gehoor was stomgeslaan. Toe haar tyd verstreke was, het Han gesê die diere moet opstaan. Al vyf het eensklaps wakker geword.

Kenners het verduidelik Han laat die diere ’n “skyndood” betree. Mense kan dit veral met diere regkry as laasgenoemde op hul rug of sy lê. Han het glo verlede jaar ontdek wat sy kan vermag toe sy in haar kleuterskoolklas ’n padda gehipnotiseer het.

Kyk hier na die oorspronklike televisie-uitsending:

Bronne: Daily Mail, 9news.com.au