Hy sou haar glo ook gereeld in daardie tydperk aangerand en verkrag het. Sy is Sondag gered op die dorpie Mitchell, sowat 600 km wes van Brisbane, toe sy nie vir die brandstof betaal het nie nadat sy die motor, ’n Pajero, laat volmaak het waarin hulle gereis het.

Die vrou het weggery nadat sy glo met die betaalslag beweer het haar kêrel het hul geld by hom en dat sy dit by hom in die motor sou gaan haal. Die oplettende werknemer van die vulstasie het gelukkig gou besef dat sy nie vir die brandstof betaal het nie. Die polisie is daarvan in kennis gestel, waarna hulle die motor gevolg en haar van die pad laat aftrek het.
Die vrou was glo sigbaar ontsteld en het kneusplekke aan haar nek en gesig gehad. Sy het die polisie vertel van haar situasie, waarna hulle die voertuig deursoek het. Die man is gevind waar hy agterin die Pajero onder klere en ander items weggekruip het.

“Sy het beserings opgedoen, onder meer frakture in haar gesig, krapmerke en ander kneusplekke wat strook met die beweerde voorvalle waarvan sy die polisie vertel het. “Wat sy ervaar het, was ongetwyfeld grusaam en skrikwekkend en ons loof haar dat sy die kans benut het om met Mitchell se polisie te praat,” het ’n woordvoerder van Queensland-polisie gesê. Dit wil voorkom asof die man en vrou mekaar begin vanjaar ontmoet het in die kusstad Cairns, sowat 1 700 km noord van Brisbane. Hulle was blykbaar in ’n kortstondige verhouding, maar hy kon glo nie aanvaar dat dit verbrokkel het nie en wou haar nie laat gaan nie. Hy het na bewering ook haar paspoort beskadig om te keer dat sy die land verlaat. Sy is nie as vermis aangemeld nie en blykbaar het haar vermeende ontvoerder dit uiters moeilik gemaak om te ontsnap.

Die man is in aanhouding en het in die Roma-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, onder meer vier van verkragting, vier van verwurging, agt van aanranding, twee van die ontneem van vryheid, twee van saakbeskadiging en vir die besit van gevaarlike dwelms.

Bronne: edition.cnn.com, au.news.yahoo.com, eveningtimes.co.uk