[caption id="attachment_162453" align="alignnone" width="600"]CT Steyn. Foto: Verskaf CT Steyn. Foto: Verskaf[/caption]

Volgens sers. Mmako Mophiring is CT Steyn Sondagaand in sy huis op die plaas Zwartfontein in die Warden-distrik deur drie mans aangeval.

“Hulle het hom vasgebind, maar hy het homself losgewikkel," vertel Mmako aan Huisgenoot. "Hy was vir omtrent drie ure lank vasgebind.”

Volgens berigte kon CT (32) hulp op ’n spaarselfoon ontbied nadat die rowers met syne weg is.

’n Familielid, wat op ’n ander plaas woon, het daarna die polisie gekontak. Volgens Mmako was CT se rooi Toyoto Hilux-bakkie weg sowel as van sy klere en ander besittings.

Mmako vertel boere in die omgewing het gehelp om na die verdagtes en die bakkie te soek. Die voertuig is Maandagoggend langs die pad naby Blue Gum Bush in Qwa-Qwa gevind, maar geen verdagtes is nog vasgetrek nie. Hy sê dit is nog nie duidelik of die verdagtes vuurwapens by hulle gehad het nie.

Die aanvallers het glo ’n venster gebreek om toegang tot die huis te kry.

“Die slagoffer woon op sy eie en was alleen by die huis,” het Mmako bevestig.

CT is na ’n hospitaal in Bethlehem geneem waar hy ’n noodoperasie ondergaan het. Die punt van die mes waarmee hy gesteek is, het sy hart beskadig, het Netwerk24 vroeër berig.