Asmalyer Jeandré Potgieter het aan Netwerk24 gesê hy weet steeds nie hoe hy dit reggekry het om oor die hek te klim nie, maar hy was nie bang toe hy by die brandende huis inhardloop nie.
Hy het die eienaar van die huis, ’n weduwee in haar 40s, gekry waar sy met haar roetbesmeerde gesig in ’n verwarde toestand in die kombuis staan.

Sy oupa, Corrie Potgieter, meen die adrenalien het oorgeneem.

Jeandré se oupa en sy oom, Cornél, is lede van die gemeenskapspolisiëringsforum van Elspark. Toe hulle die noodoproep oor die brand Saterdagmiddag hoor, het die drie hulle na die huis gehaas.

Terwyl sy oupa en oom deur die hek probeer breek het, het Jeandré vinnig daaroor geklouter.

Hy het die eienaar van die huis, ’n weduwee in haar 40s, gekry waar sy met haar roetbesmeerde gesig in ’n verwarde toestand in die kombuis staan. Jeandré het haar na buite na veiligheid gelei.

Een van die bure het aan Netwerk24 gesê die vrou het geskree haar huis is aan die brand en het toe teruggegaan om haar drie honde te probeer red. Die diere het almal oorleef.

Sy het in die huis gebly saam met haar bejaarde skoonpa en haar seun, wat nie ten tye van die brand tuis was nie.

Die brand het vinnig deur die huis versprei en daar het nie veel oorgebly nie buiten die mure en ’n paar verskroeide uie.

Jeandré sê die vlamme het die kombuis genader toe hy ingaan en die vrou uithaal. Albei is hospitaal toe geneem waar hulle vir rookinaseming behandel is. Hulle is dieselfde dag nog ontslaan.

- Netwerk24