Tot dusver het Asanda Jezile, die dogter van Suid-Afrikaners wat nou in Engeland woon, die beoordelaars en gehoor by Britain’s Got Talent nog met elke vertoning beïndruk.

Met haar eerste oudisie het haar weergawe van Rihanna se liedjie Diamonds die beoordelaars uitgeboul, maar dis haar weergawe van Beyoncé se liedjie Halo wat haar ’n plek in die eindstryd verseker het.

Die selferkende diva (11) het op 8 Junie teen 9 ander hoopvolles meegeding vir die prysgeld van sowat R4 miljoen. Haar strafste kompetisie was Arisxandra Libantino (11) en Gabz Gardiner (14). Jong Asanda het op Twitter gebieg: “Ek raak ’n bietjie senuweeagtig, maar jy kry net een kans! Ek moet alles insit . . . ek is bang en opgewonde! X”

Sy kon darem daarin slaag om die senuwees baas te raak en het haar goed van haar taak gekwyt. Vir die laaste optrede het sy Beyoncé se If I Were a Boy gesing.

Die beoordelaars sê

  • Alesha Dixon: Asanda, jy is nie normaal nie, jy is ’n natuurfrats. Dit neem kunstenaars jare om daardie soort vertoning op ’n verhoog te lewer en jy dit het pragtig uitgevoer.
  • Amanda Holden: Dis belaglik hoe talentvol jy is. Jy herinner my aan Willow Smith. Ek staan voor in die ry vir jou handtekening. Briljant.
  • David Walliams: Dit voel nie of jy na ’n 11-jarige kyk nie. Dit voel of jy na ’n superster kyk wat in die O2 optree. Dis hoe goed jy is.
  • Simon Cowell: Jy het al drie keer opgetree en dit was beslis die beste nog. Jy het gekom om te wen en jy is ’n briljante sangeres.

Dinge het egter nie seepglad verloop nie. Die altvioolspeler Natalie Holt het Simon, ook bekend as Mr. Nasty, met eiers gegooi. Sy het op die verhoog gehardloop en Simon met eiers gegooi terwyl die operasangers Richard en Adam Johnson hul liedjie gesing het.

Kyk hier na Asanda se vertoning by die eindstryd van Britain’s Got Talent en laat ons weet wat jy daarvan dink!

- Faiza Mallick

Bronne: unrealitytv.co.uk, huffingtonpost.com