Asanda Jezile betree die verhoog in ’n rooi geruite rok met jeans en tekkies vir haar oudisie vir Britain’s Got Talent.

Dié 11-jarige skoolmeisie van Londen dra grimering, maar haar glimlag is onskuldig en vriendelik. Die beoordelaars is gaande oor haar vertoning.

Dié voortiener se ouers is Suid-Afrikaners wat al 14 jaar in Engeland woon. Sy het die gehoor aan haar voete gehad met haar vertolking van Rihanna se liedjie Diamonds, kompleet met dramatiese en goed beplande danspassies.

Alesha Dixon, ’n beoordelaars, se mond het oopgehang vir Asanda se danspassies en aan die einde van haar vertoning het die gehoor haar staande toegejuig.

Die beoordelaars was gek oor haar verhoogpersoonlikheid en talent. Selfs Simon Cowell, wat ’n reputasie het as ’n grompot, was dol oor haar vertoning. “Ek het nog nooit so ’n ongelooflike verhoogpersoonlikheid by ’n 11-jarige gesien nie. Jy is regtig goed en het die mooiste glimlag wat ek al gesien het.”

En dit lyk of sy haar talent geërf het. Haar pa, Luyanda Jezil, ’n bedrewe sanger, het ’n dag voor Asanda se indrukwekkende vertoning op die Vryheidsdagonthaal in Suid-Afrika-huis in Londen opgetree.

Asanda het agter die skerms voor haar oudisie haar lyf Beyoncé gehou en dié sangeres se passies in haar musiekvideo Put a Ring on It nageboots en trots verklaar: “Ek is nogal ’n diva.”

Sy sê haar gunsteling-sangeresse, Rihanna en Beyoncé, inspireer haar. Maar daar is mense wat reken haar vertoning was te seksueel suggestief vir haar ouderdom. Wat dink jy? Kyk die video en besluit: http://www.youtube.com/watch?feature=player_detailpage&v=dnvQ3HX0-pA

-   Faiza Mallick