In 1999 het die tienjarige Jake Lloyd kniediep in die hart van Star Wars-aanhangers gekruip as die jong Anakin Skywalker in Star Wars Episode 1 - The Phantom Menace.

Sowat 3 000 jong akteurs het oudisies vir die rol van Anakin gedoen.

Dit was nie sy eerste blootstelling aan die kalklig nie. In 1996 het hy ook in vier aflewerings van die gewilde hospitaalreeks ER as Jimmy Sweet saam met Ewan McGregor verskyn.

Jake het sy laaste buiging op die silwerdoek gemaak in die fliek Madison saam met Jim Caviezel. Dié fliek is reeds in 2000 vervaardig, maar eers in 2005 uitgereik.

Hy het volgens bronne skoolboelies en die spanning van tot 60 onderhoude per dag verkwalik vir sy besluit om sy akteursloopbaan vaarwel toe te roep.

Ingeligtes meen uitlatings wat Jake met die jare gemaak het, moes as duidelike waarskuwingseine gedien het dat alles nie pluis is nie, en dat hy hulp nodig het.

“Jy kan nie teen almal baklei wat ongenaakbaar teenoor jou is nie,” het Jake glo gesê.

“Ek het probleme gehad. Toe ek aan die begin dit moes verwerk dat ek in Star Wars was, wel . . . wie sou nie?”

Hy het ook erken dat niemand werklikwaar besef het hoe groot die uitwerking van Star Wars op enige van hulle se lewe sou wees nie.

“Ek het geleer om dit te haat wanneer die kamera in my rigting draai,” het hy gesê. In ’n onderhoud in 2012 het hy onder meer genoem dat The Phantom Menace sy jeug en sy toneelloopbaan geruïneer het. Sy woede jeens die fliek was so erg dat hy al sy Star Wars-aandenkings vernietig het.

Die afgelope paar dae gons dit behoorlik op sosiale netwerke nadat skisofrenie by die eens belowende jong akteur diagnoseer is. Op Sondag 10 April 2016 is hy na ’n psigiatriese instelling verwys.

Jake (27) het tot dusver al amper 10 maande in die gevangenis deurgebring nadat hy in Junie 2015 in hegtenis geneem is.

Ernstige aanklagte is destyds teen hom aanhangig gemaak: roekelose bestuur, versit teen inhegtenisneming, bestuur van ’n voertuig sonder ’n rybewys en sy weiering om stil te hou toe die polisie hom so beveel.

Hy het plek-plek in Suid-Carolina tydens ’n wilde jaagtog deur twee state glo teen meer as 161 km/km t vir die polisie weggejaag. Dit het byna rampspoedig afgeloop toe hy deur ’n heining bars en in bome vasry. Die polisie het hom op die toneel in hegtenis geneem.

Jake se ma, Lisa Lloyd, sê hy het reeds op 19 tekens van skisofrenie getoon, maar danksy medikasie en behandeling was alles onder beheer.

Tog, op 26 Maart 2016 het Lloyd so ver gegaan as om sy ma aan te val nadat hy nie sy medikasie geneem het nie.

Sy het glo vir die polisie vertel dat Jake haar daarvan beskuldig het dat sy sy lewe verwoes het. Sy wou hom nie in haar huis toelaat nie, maar Jake het haar platgeslaan en “drie of vier keer op (haar) getrap”. Sy het kneus- en krapmerke aan haar arm opgedoen.

Dit is nog nie bekend hoe lank Jake vir behandeling opgeneem sal word nie.

Sewe bekendes met geestesgesondheidsprobleme

1. Die Disney-ster Demi Lovato: bipolêre steuring.

2. Jack Kerouac, die skrywer van die klassieke On the Road: skisofrenie.

3. Johnny Depp: depressie en angstigheid.

4. Adele: angsaanvalle.

5. Drew Barrymore: voer ’n stryd teen dwelms en drank.

6. Catherine Zeta-Jones: bipolêre steuring.

7. Amanda Bynes: toon tekens van psigose, paranoia wat moontlik skisofrenie of bipolêre steuring kan wees.

– Annelene Oberholzer

Bronne: imdb.com, dailymail.co.uk, nydailynews.com, usmagazine.com, afkinsider.com, schizophrenia.com

Ook op Huisgenoot.com:

Sexy Ryk en sy beeldskone Sahar baljaar tussen die branders van die Maldives

Banters let op! Algemene wanopvattings oor eetplanne met min koolhidrate

Valk tref motor en oorleef wonderbaarlik ’n hele naweek vasgekeer in sierrooster

Mauritius-moordsaak: Saak teen SA besigheidsman laat vaar

Jacques Terre’Blanche raak nostalgies en sing Lucas Maree se Droomvrou vir sy oorlede pa