Die naam, Pietie Beyers, is dalk nog onbekend, maar hy is 'n jong Afrikaanse akteur om dop te hou. Ons gesels met hom.

Waarin kon kykers jou onlangs alles sien?

Balbesit by KKNK. Die Boland Moorde op kykNET. Lien se Lankstaanskoene by filmteaters.

Waar kom jy vandaan en hoe was jou grootwordjare?

Oorspronklik P.E. Ná ses jaar Kaap toe. Beskermd, bevoorreg, vol liefde, maar hoërskooljare was ek maar onseker. Die lewe het vir my voor en ná skool die meeste sin gemaak. Dis hoegenaamd nie die skool se skuld nie. Dis net hoe my pad geloop het.

Wat was jou heel eerste rol?

Zatopek, Neil Sandilands se jonger self, in die TV-reeks Orion. Ek was 15.

Wat het gemaak dat jy besluit het jy wil ’n akteur word?

Die films van Roald Dahl se boeke toe ek klein was.

Het jy drama studeer? Waar?

Ja. Stellenbosch.

Wat is die lekkerste rol wat jy al vertolk het en hoekom?

Paris in Romeo en Juliet en my rol in die toneelstuk Balbesit. Omdat die proses in albei gevalle so lekker was en ek met wonderlike regisseurs en akteurs gewerk het.

Wat doen jy wanneer jy nie op die verhoog of voor die kamera is nie?

Werk as ’n kopieskrywer en aanbieder vir ’n reklame-en-produksiemaatskappy, The Suits, in die Kaap. Speel sokker, swem, speel bordspeletjies, kuier met vriende en Skype my meisie wat tydelik in Korea skool gee.

Herken mense jou al op straat?

So hier en daar.

Waarin gaan jy volgende speel?

Balbesit in die Staatsteater in Pretoria.

Wat is jou TV- en teaterdroom?

Teater: Dat ons toneelstuk, Balbesit, op die een of ander manier ná ons speelvak in Pretoria sal voortleef.

TV: Ek speel dikwels die skurk, maar voel eintlik soos die goeie ou. Dit sal lekker wees om eendag die goeie ou te speel. Maar beslis liewer skurk as niks!

Film: Ek werk aan ’n filmteks sedert my honneurs in kreatiewe skryfwerk. Ek sal dit baie graag eendag wil sien gebeur en ideaal gesproke daarin speel. Maar nou ja, mens kan net hard werk en hoop vir die beste!