In watter programme of produksies het kykers jou onlangs gesien?

Op die verhoog was ek betrokke by Op Dees Aarde, Kind Hamlet, Balbesit en Tjop en Dop. Op TV het ek onlangs verskyn in die eerste episode van Die Boland Moorde op KykNET.

Waar kom jy vandaan en hoe was jou grootwordjare?

Ek is in Johannesburg gebore, maar ons het Kaap toe getrek toe ek nege maande oud was. Ek het grootgeword in Tamboerskloof waar ons nou al vir 23 jaar woon. My grootwordjare was lekker van so gr. 1 tot 5 en toe weer van so st. 9 tot matriek. Die jare tussen in het ek veward en onseker gevoel oor die lewe.

Wat was jou heel eerste rol?

My heel eerste rol was seker ’n leeu in die kleuterskoolkonsert. Ek kan nie veel daarvan onthou nie, maar ek onthou die opwinding en ek onthou ek moes nie veel doen behalwe af en toe brul en my poot oplig nie. My eerste professionele rol was Hamlet in Kind Hamlet. Dit was ’n vuurdoop. Ek was nie heeltemal reg daarvoor vars uit universiteit nie, maar ek is oneindig dankbaar aan Marthinus Basson wat my die geleentheid gegee het. Ek het ongelooflik baie geleer daaruit. Dit sal altyd een van my kosbaarste herinneringe op die verhoog wees. Ek weet dit.

Wat het gemaak dat jy besluit het jy wil ’n akteur word?

Ek is baie vroeg in my lewe blootgestel aan die teater. My ouers het by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement ontmoet en albei werk in die vermaakbedryf. So, ek is altyd omring deur die teater en toneelspel, maar ek het beslis nie gedink ek sou ’n akteur word nie. Ek het op hoërskool in toneelstukke gespeel, maar dit was vir pure genot; ek het nie gedink ek sou ’n loopbaan daarvan wil maak nie. Ek was baie bewus van hoe moeilik dit is om ’n bestaan te maak uit die bedryf. Teen einde matriek het besef dat dit nou verby is. Dit het nie reg gevoel nie. Ek was en is nogal skaam en op die verhoog kon ek uit my dop klim. Dit was ’n verskoning om goed te doen en sê wat ek normaalweg te skaam was om te doen.

Het jy drama studeer? Waar?

Ek het drama aan die Universiteit Stellenbosh studeer. Ek is nou besig met my meestersgraad, maar ek woon nou weer in die Kaap sodat ek tussen-in vryskutwerk kan doen.

Wat is die lekkerste rol wat jy al vertolk het en hoekom?

Hamlet. Ek het nog nie die vollengte tradisionele rol moes aanpak nie, maar ek het op universiteit in ’n postmodernistiese verwerking, Nog ’n Hamlet gespeel en ook onlangs in die dokumentêre drama, Kind Hamlet. Hamlet is die Olimpiese Spele vir die toneelspeler. Die lengte en die verantwoordelikheid van die rol is ’n uitdaging op sy eie en dan moet jy nog besluit hoe jy hom gaan speel. Hy is al op so baie maniere gespeel en sy woorde het al legendariese status bereik. Hy is so ’n ingewikkelde, veelvlakkige, veeleisende karakter. Almal ken ten minste een reël uit Hamlet, al stel jy nie in die letterkunde of die teater belang nie. Al is dit net “to be or not to be”.

Wat doen jy wanneer jy nie op die verhoog of voor die kamera is nie?

Ek is mal oor sport. Veral rugby en sokker. My vriendekring reël twee keer per week ’n  sokkerwedstryd en ek kyk elke naweek Premierliga en Superrugby. Verder kyk ek films, gaan teater toe en kuier.

Herken mense jou al op straat?

Haha. Nee, ek is nog baie jonk en onervare. Ek dink in elk geval ons bedryf is te klein vir regte celebrities (in die Amerikaanse sin van die woord). Ek dink dis net die sepieakteurs en die popsterre wat regtig op straat voorgekeer word.

Waarin gaan jy volgende speel?

Ek is nog nie bewus van nuwe werk nie, maar Balbesit toer na Pretoria vir twee weke en Tjop en Dop toer in Julie na die Vryfees in Bloemfontein.

Wat is jou teater/televisie-drome?

’n Teaterdroom is om deel te wees van ’n heeltydse geselskap/esemble. Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit in hierdie land weer sal moontlik wees, tensy dit aan ’n instansie soos ’n universiteit gekoppel word wat ’n infrastruktuur het soos repetisieruimtes en ’n regte teater, nie ’n skoolsaal nie. Om deel te wees van ’n groep wat ’n hawe het en saam kan skep en ontwikkel. Ek voel nog onseker oor televisie. Ek het min ervaring en nog nie genoeg selfvertroue in hierdie medium nie. ’n Goeie vertrekpunt is om net soveel moontlik daarvan te doen.