Wat vir baie net ’n droom is, word nou ’n werklikheid vir Liza van Deventer.

Dié 20-jarige boorling van Pretoria studeer tans in drama- en danstegniek in Los Angeles en speel en dans geleidelik vir haar ’n plekkie los in dié mededingende vermaakbedryf.

Sy wou nog altyd toneelgespeel het, vertel Liza. “Ek is mal daaroor om in my verbeelding te ontsnap.” Haar dansloopbaan het op ses begin toe sy ná ’n beenoperasie begin dans om haar bene te ontwikkel. “Ek het dadelik daarop verlief geraak!”

Liza sê sy geniet die lewe in Los Angeles en noem dit ’n wonderlike plek. “Ek kan elke dag op die strand in Santa Monica gaan ontspan, gaan bergklim of in die luukse strate van Beverly Hills gaan stap.” Sy geniet die verskeidenheid van die omgewing en sê haar klasse bestaan om die helfte uit Amerikaanse en buitelandse studente.

Liza het onlangs ’n kontrak met ’n akteursbestuurder onderteken wat haar baie sal help om geleenthede te kry in dié taai bedryf. “Ek het verlede week ’n oudisie afgelê vir ’n groot film omdat die vervaardigers juis ’n Afrikaanse meisie gesoek het. Dit het my baie trots laat voel!”

Dié oudleerling van die Hoërskool Menlopark het al by die bekende drama-dosent Michelle Danner klas geloop. Michelle is bekend daarom dat sy bekendes soos James Franco, Penélope Cruz, Gerard Butler en Zooey Deschanel touwys gemaak het.

Tot dusver was dit vir Liza ’n hoogtepunt om by verlede jaar se Wêrelddanspryse op te tree. “Ek het voor my dans-rolmodelle gedans. Dit was op die bekende sunset strip en ons moes op die rooi tapyt loop. Dit was baie opwindend!”

Verlang sy nie huis toe nie? “Ja, baie! Maar dan lees ek ’n goeie Afrikaanse boek of luister na Laurika Rauch. Ek praat ook gereeld op Skype met my gesin en my maats op universiteit.”

-     Suzaan Hauman