Die 18-jarige was die jongste van drie terroriste wat die satiriese publikasie Charlie Hebdo in Parys se kantoor binnegestorm en met AK47-aanvalsgewere op personeel losgebrand het. Tien joernaliste en twee polisiemanne is onder die mense wat dood is, berig die Huffington Post.

Twee broers, die ander aanvallers in Frankryk se grootste terreuraanval die afgelope 25 jaar, is steeds voortvlugtend.

Hamy Mourad (18) het hom oorgegee nadat die polisie die drie aanvallers in Woensdag se aanval uitgeken het.

Volgens internasionale berigte het Mourad bloot ’n polisiekantoor sowat 230 km van die Franse hoofstad binnegestap, hom voorgestel en is hy in hegtenis geneem.

Die Franse polisie het foto’s van die broers Said (32) en Cherif (34) Kouachi uitgereik en ’n beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat tot hul inhegtenisneming kan lei.

Die Franse president, Francois Hollande, het gesê die aanval was sonder ’n sweempie twyfel ’n terreuraanval en het vandag tot ’n nasionale roudag van rou verklaar.