Die gewilde komediant Rikus de Beer, beter bekend as Jonathan van Radio Raps, word tans in afsondering behandel. Hy is in ’n bestendige maar kritieke toestand nadat hy sowat drie weke gelede in die intensiewesorgeenheid van ’n Pretoriase hospitaal opgeneem is.

“Rikus se dokters is tevrede met sy vordering. Sy toestand is steeds kritiek, maar bestendig,” het Zinta Kymdell, sy bestuurder, Dinsdagoggend aan huisgenoot.com gesê.

“Hulle is positief dat Rikus nou spoedig sal herstel. Dit is tans moeilik om te bepaal hoe lank hy nog in die hospitaal gaan wees; daarom moet ons drie optredes uitstel,” het sy gesê.

Volgens Zinta is Rikus se infeksietelling steeds hoog en moet hy in die hoësorgeenheid bly tot hy buite gevaar is. Volgens haar word Rikus daar in afsondering behandel om die infeksie in sy galblaas te genees en verdere infeksie te voorkom.

Die komediant en akteur is op 27 Mei ná sy optrede by die Silverstar Casino aan die Wes-Rand in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Hy het galstene gehad.

Twee dae later het hy ’n buikoperasie ondergaan, maar toe ’n virus opgedoen wat tot hart-, lewer- en nierversaking gelei het. Hy het daarna ’n infeksie in sy galblaas opgedoen. Op 8 Junie is sy galblaas verwyder.

“Die Radio Raps-bestuurspan vra verskoning vir die ongerief rakende optredes wat uitgestel moes word. Rikus se gesondheid is die prioriteit, en ons wil hê hy moet eersdaags weer op die been wees. Hy is jammer dat hy weens sy gesondheid nie kan optree nie, maar sien baie daarna uit om binnekort terug te wees op die verhoog.

“Ons bespreek dit reeds met die kliënte en sal so gou moontlik die nuwe optrededatums bekendmaak,” het Zinta bevestig.

Die optredes wat uitgestel is, is by The Ridge in Witbank (30 Junie), Goldfields Casino in Welkom (1 Julie) en op Thabazimbi (15 Julie). Die ander optredes bly vir eers onveranderd.