Sy agent, Zinta Kymdell, het telefonies teenoor Huisgenoot.com bevestig sy toestand is kritiek maar bestendig. “Dit is nie nou ’n lekker tyd nie,” het sy gesê.

Hy is Saterdag kort ná sy optrede by die Silverstar Casino aan die Wes-Rand in die hospitaal opgeneem. Hy was toe reeds siek, “maar hy het daardie optrede met ’n binneaarse drup aan sy arm gedoen,” vertel Zinta.

Hy sou Dinsdag ’n tweede operasie ondergaan, maar volgens Zinta het die mediese span die opvolgprosedure “weens onbestendige gesondheidsmerkers” uitgestel.

Ricus is Woensdag na die waakeenheid oorgeplaas waar sy toestand deeglik gemonitor word.

“Sy mediese span is tevrede en sê sy toestand is kritiek maar bestendig. Rikus se bestuurspan vra verskoning vir ongerief rakende optredes wat geskuif is, maar wil hom graag gou weer sterk en gesond sien.”

Sy beplande optredes vir die volgende drie weke is uitgestel en die nuwe datums sal binnekort bekendgemaak word.

Rikus het in November verlede jaar in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel hy streef daarna om gesonder te leef omdat hy na sy hart moet kyk.

Hy het in 2014 sy YouTube-debuut as Jonathan van Radio Raps gemaak. Sy snaakse video’s het ’n internetsensasie geword en dit was die begin van sy loopbaan as komediant en akteur.