Dit lyk of die Jonas Brothers se paadjies nog nie finaal geskei het nie.

Dit het verlede week gegons dat die groep, wat bestaan uit die broers Kevin (25), Joe (24) en Nick (21), se paaie gaan geskei nadat hulle hul Amerikaanse toer gekanselleer en hul Twitter-blad geskrap het weens “onenigheid in die groep”.

Maar Nick en Joe het aanhangers opnuut hoop gegee dat hulle sal aanhou om saam musiek te maak. Joe het nie probeer doekies omdraai oor hul onlangse probleme nie en het Dinsdag op sy Twitter-blad geskryf: “Hang asseblief aan terwyl ons ons *** uitsorteer.”

Nick het minute later getwiet: “Wees geduldig met ons.”

Die groep, wat in 2005 gestig is, se Amerikaanse toer sou op 11 Oktober in Philadelphia afskop, maar hulle het hul optredes gekanselleer ná ’n uitval.

“Daar is groot onenigheid in die groep. Daar was ’n groot uitval oor die rigting waarin hul musiek beweeg,” het Jesse Derris, hul woordvoerder, gesê.

“Dis nie ’n persoonlike geveg nie, dit gaan oor die musiek. Hulle is broers en is lief vir mekaar. Ja, hulle praat nog met mekaar,” het iemand in die binnekring gesê.