Jonah Hill het Adam Levine en Behati Prinsloo se trouseremonie behartig.

Die ster het die 300 gaste by die geleentheid in Mexiko laat lag, maar het ook ’n paar roerende woorde vir sy vriend gehad toe dié met die Victoria’s Secret-model afhaak.

’n Bron het aan E! News gesê: “Jonah was skreeusnaaks. Hy het so baie grappe vertel, maar dan was hy weer so opreg.

“Hy het ook gepraat oor hoe wonderlik Behati is en hoe perfek hulle vir mekaar is.”

Een van Jonah se grappe was oor hoe hy en Adam in hul jongdae met Robert Downey jr. en Stevie Nicks skaatsplank gery het.

Die bron het verduidelik: “Hy het die grap perfek beplan. Sy tydsberekening was ongelooflik. Almal het gegiggel.”

Behati se pa, ’n predikant, het die gelukkige paartjie ’n seëning toegewens toe hulle die aand op die strand trou.

Tydens die seremonie het die bruid en bruidegom troubeloftes gelees wat hulle self geskryf het, en agterna het gaste met volop kos en drankies onthaal gehou.

Die bron het bygevoeg: “Dit was alles vars, geskroeide tuna, lieflike slaaie; alles was organies en wonderlik. Die drank het gevloei. Daar was elke soort mojito wat jy jou kan indink.”

Adam en Behati gaan in Suid-Afrika wittebrood hou.