Die sanger het ingestem om saam met Branka Delic in die paadjie af te stap toe sy Saterdag in die Graceland-kapel in Las Vegas afhaak. Jon het selfs gereël dat ’n limousine Branka na die kapel neem.

Branka het twee maande lank ’n veldtog op Facebook begin om Jon te oorreed om deel te wees van haar groot dag. Hy was per toeval op haar troudag in Las Vegas vir ’n optrede by die MGM Grand later die middag, en het ingestem om haar droom te bewaarheid.

Jon (51) en sy vrou, Dorothea Hurley (51), is in 1989 in dieselfde kapel getroud.

Die sanger het die oggend ná die seremonie ’n foto van hom en Branka gedeel en die pasgetroude paartjie op Twitter gelukgewens. “Geluk, @branksd! Hoop jy en Gonzalo het ’n leeftyd saam vol geluk, liefde en goeie herinneringe - ALWAYS!”

Bron: Hello!