Hulle het as studente op ’n naweekwegbreek in die Drakensberge ontmoet en het sedertdien nog net liewer vir mekaar geword.

“Sy is ’n fondasie. Sy hou my gefokus en regop. En sy is mooi!” sê Johrné oor waarom hy haar liefhet. Alet is ’n beroepsfotograaf en is betrokke by beroepsgesondheid.

“Ná 14 jaar ken ons die ritme van ons huwelik, in goeie of slegte tye. Ons is baie gemaklik met mekaar. Ons is beste vriende en ons het al saam ’n paar sakke sout opgeëet!”

Hulle albei word vanjaar 40 en Johrné vier sy verjaarsdag môre. “Die saam groei in die lewe bly ons fassineer. Ons gaan vir die eerste keer in drie jaar met vakansie, so die hele week is spesiaal. Ons vier sommer alles saam.”

En wat is sy raad vir ander om ’n verhouding te laat werk? “Ek het eerder raad as ’n verhouding nie werk nie: Los dit. Die lewe is te kort om met iemand te wees wat jou nie elke dag ’n beter mens maak nie.”